Derde Winter

Daar's 'n huis op 'n plaas met 'n boom voor die deur
Ek onthou nog die helder wit blomme se geur
En die pad van klippies wat jou verlei
Om die draai en by die voordeur verby
Ek onthou nog hoe kraak die kombuisdeur skarnier
En die reuk van die brood in die koolstoof se vuur
Die plankvloer se kreun as jou voete daar val
Dan jou lyne geëts teen die muur

Maar dit is die derde winter van koudkry
Die derde winter alleen
Die derde winter van ys in my hare
Die derde winter vervreem
Van 'n huis en kombuis en die tafel se grein
En die ligte wat sorg dat die donker verdwyn
Maar my vingers te koud
Om die rafels te hou
Ek probeer nog, probeer te onthou

Van die huis en die plaas...
Die boom, nou verdor
Sy blomme verwelk op die grond
Die klippe wat sny as my voete daar trap
En ons drome verskroei in die son

Want dit is die derde winter van koudkry
Die derde winter alleen
Die derde winter van ys in my hare
Die derde winter vervreem
Van die huis en kombuis en die tafel se grein
En die ligte wat sorg dat die donker verdwyn
Maar my vingers te koud om die rafels te hou
Ek vergeet nou alles van jou

Daar's nou 'n huis teen 'n berg met 'n boom voor die deur
Die wind maak musiek en waai bloekom se geur
Al die deure staan oop vir die mense wat kom
Om te staan by die koolstoof se vuur

Verby is die derde winter van koudkry
Die derde winter alleen
Die derde winter van ys in my hare
Die derde winter vervreem
Want ek het 'n huis en kombuis en 'n tafel se grein
My ligte wat sorg dat die donker verdwyn
Daar's nou vingers wat help om die rafels te weef
En 'n nuwe tapyt begin leef



Credits
Writer(s): Marica Barnard
Lyrics powered by www.musixmatch.com

Link