Stofdorp

By die eerste stopstraat
In die klein stowwerige dorpie
Waar hy sonder geskal van trompet
In die wêreld ingeglip het
Sien hy die ou vrou en die ou man
In die klein skewe bakkie raak
Oorkant hom
Aan die ander kant van die stopstraat

Sy met 'n glimlag van oorgee
Na soveel jare van sukkel
Hy met 'n grynslag van swak sig
Agter die stuur van die klein skewe bakkie

By die tweede stopstraat
In die klein stowwerige dorpie
Waar hy sonder geskal van trompet
In die wêreld ingeglip het
Sien hy in sy truspieël
Die klein skewe bakkie rukkerig vorentoe skraap
Daar ver agter hom
By die eerste stopstraat

Sy met 'n glimlag van oorgee
Na soveel jare van sukkel
Hy met 'n grynslag van swak sig
Agter die stuur van die klein skewe bakkie

By die laaste stopstraat
In die klein stowwerige dorpie
Waar hy sonder geskal van trompet
In die wêreld ingeglip het

Sien hy 'n man oorkant die stopstraat
In 'n blink nuwe swart kar aankom
En hy trek sy oë op skrefies
En steek sy hand uit na die vrou langs hom

Sy met die glimlag van oorgee
Na soveel jare van sukkel
Hy met 'n grynslag van swak sig
Agter die stuur van die klein skewe bakkie

Dis nou hy met 'n grynslag 'n grynslag van swak sig
Agter die stuur van 'n klein skewe bakkie
Dis nou hy met die grynslag die grynslag van swak sig
Agter die stuur van 'n klein skewe bakkie

Sy met die glimlag van oorgee
Na soveel jare van sukkel en swig
Hy met 'n grynslag van swak sig
Agter die stuur van die skewe bakkie ingewig



Credits
Writer(s): Ockert Greeff
Lyrics powered by www.musixmatch.com

Link